Saturday, January 03, 2009

Kritiek van uit die wêreld

As daar een ding is wat ek glad nie kan verstaan nie, is dit die daaglikse stukkies wat ek lees van mense wat ons land, Suid Afrika, vanuit die buiteland kritiseer. Ek verstaan nie hoekom die mense ons nie kan uitlos nie. Hulle het besluite geneem om oorsee te gaan bly, maar kan ons dagblaaie en internet blaaie net nie uitlos nie.

Ek lees juis vanoggend oor 'n ex-Suid Afrikaner wat in die briewe kolom van 'n koerant vertel dat hy so trots op ons krieketspan is vir die reeksoorwinning oor Australië. Hy vertel dan voorts dat hy al iets soos sewe jaar in Australië is en dat hy dit nou gaan invryf dat "ons" die reeks gewen het. Verloor ek die spreekwoordelike plot hier of wat? My nugtere denke sê vir my dat indien iemand sewe jaar al in 'n ander land woon, hy eintlik deel van die nuwe land behoort te wees en nie van sy ou land nie.

Om te emigreer is 'n baie groot gewigtige besluit. Ek besef oor terdee dat daar baie mense is wat oorsee gegaan het oor die verkeerde redes en siels ongelukkig is in hulle nuwe aangenome lande. Ek weet dat baie van hulle elke dag die besluit om te gaan graag wou omdraai en so graag sou wou terugkom, maar net nie die finansieële vermoë het nie. Daar is egter baie mense wat oorsee gegaan het en baie gelukkig is in hulle nuwe omgewing. Hulle het aangepas en is baie gelukkig in hulle werk en tussen hulle "nuwe" mense. Gewoonlik is dit die mense wat welgesteld hier weggegaan het en genoeg geld gehad het om vir hulle in 'n nuwe lewe in te koop. Geld diskrimineer nie.

Albei die groepe mense het egter vir hulle 'n bed opgemaak en moet daarop gaan slaap. Hulle het die belsuit geneem om hulle rug op Suid Afrika te draai en eerder elders 'n heenkome te gaan soek. Ek lees hier gedurig die snert dat hulle sal terugkom sodra omstandighede hier verander. Jy weet, ek wil julle nie terug hê in ons land nie. Daar is 'n ou gesegde wat sê dat indien jy nie deel van die oplossing is nie, is jy deel van die probleem. Julle het 'n besluit geneem om julle rug te draai op die probleme in die land en dit eerder soos kwevoëls van die kantlyn af te beskree. Ons wat hier bly probeer ons probleme uitsorteer en weet julle, is gelukkig om hier te bly. Dan het die weghardlopers ook nog die vermetelheid om te vra om stemreg te kry in ons land! Hoekom, julle is nie deel van ons oplossing nie? Ek sluit uit die aard van die saak nie mense in wat om geldige redes oorsee gaan werk (soos verplasings ens.) het of tydelik kontrakwerk verrig nie. Hulle is welkom en hulle kan enige tyd stemreg kry.

Terug na die raasgatte - wat hoofsaaklik in Australië voorkom. Die dag toe hulle besluit het om'n nuwe heenkome te gaan soek daar ver in die verte in Australië, was dit tog nie 'n tydelike besluit nie. Julle het dit almal gedoen teen 'n baie hoë opoffering wat finansieël sowel as sosiaal 'n groot impak op julle gehad het. Verstaan my reg, julle het die reg om die besluit teneem en ek dink dit vat nogaal guts om dit te doen, maar die feit bly staan dat julle julle verblyf nou hier verbeur het. Julle is nou deel van julle nuwe land en behoort al julle energie in daardie land in te gooi. Julle dra klaar tot die land se ekonomie by en julle kinders gaan daar skool en word in daardie land se stelsels geskool en opgelei. Sekerlik behoort julle dan stemreg te soek van daardie nuwe land om daar 'n inspraak te hê oor die toekoms en hoe julle dit polities en ekonomies vir julle kinders wil laat voortgaan? Dit is tog waar julle nuwe spore loop en nie terug in Suid Afrika nie?

Net so moet julle dan ook julle gewig agter julle nuwe sporthelde ingooi. Julle kinders - indien hulle kan - sal eendag daardie nuwe land op die sportveld verteenwoordig. Ek glo dat daar altyd 'n sagte plekkie vir die land van heenkome sal wees, maar dit behoort steeds nie die ondersteuning van julle nuwe nasionale span weg te vat nie. Julle moet dus nie meer trots te wees as SA se krieketspan die Aussies op die krieketveld klop nie, maar hande klap en hulle geluk wens terwyl julle ook aan die debatte deelneem om die regte spelers vir julle nuwe land te kies. Dan het julle die spreekwoordelike emigrasie voltooi.

Ek hoor ook daagliks van mense wat ongelukkig is en dat hulle nuwe lande se mense hulle nie wil aanvaar nie. Is dit nie maar baie oor die bovermelde wat dit veroorsaak nie? Is dit nie omdat julle die land as goed genoeg beskou om in te bly, maar nie goed genoeg om ten volle te ondersteun nie? Daardie mense het dieselfde gevoel wat ek in mense het wat al 30 jaar plus in SA woon, maar steeds verkies om hulle Britse burgerskap te hou. Hulle, het geen reg om te stem in die land nie en ek was so bly toe die wet hier deurgevoer is dat jy 'n SA burger moet wees om te kan stem. Permanente inwoners tel net nie. Na dertig jaar, moet jy sekerlik al voel dat hierdie jou land is en gaan wees tot jou dood toe.

So asseblief, julle wat besluit het om oorsee te wyk, gaan skree daar in julle koerante op julle eie sportlui en politici en los ons uit om op ons eie mense te skree.

No comments: