Thursday, January 18, 2007

Die Herschelle Gibbs insident

Gibbs het in die eerste krieket toets tussen Suid Afrika en Pakistan die groot sonde begaan om iemand ‘n dier te noem. Ja, as ek nou eerlik wil wees, dit is nou seker nie die beste maniere om mense diere te noem nie en fokken diere is seker nog bietjie erger, maar dit is darem nou nie een van die erfsondes nie. Krieket sal nie ten gronde gaan daaroor nie en Pakistan sou ook nie die toets gewen het as hy dit nie gesê het nie.

Die insident het gebeur toe ‘n klomp Pakistanse idiotiese ondersteuners aanmerkings teen oor Paul Harris gemaak het. Ek was van plan om die middag te gaan kyk en is nou jammer dat ek nie gegaan het nie, want ek sou graag die spul self wou aanskou en nie uit ander monde daarvan gehoor het nie. Ek het wel die baie onduidelike opnames van die kommentaar gehoor. Om alles te kroon het die een of ander idioot in Pakistan daaroor gekla en dit is toe na die Internasionale Krieket Raad (IRK) verwys wat op sy beurt die wedstrydskeidsregter, Malcolm Speed, gevra het om Gibbs aan te kla en te verhoor. Speed het toe ‘n twee toets skorsing toegeken. Teen publiseer tyd het Gibbs appél aangetek en ons wag in spanning wanneer dit verder gaan aangaan. Verder moet hy daarna deur die SA krieketunie ook verhoor word. Dit is nou so belaglik as wat die plaaslike landros ook ‘n vonnis moet uitspreek oor iemand wat klaar in die hoogeregshof skuldig bevind is. Die proses laat my amper dink aan die chaos van ‘n munisipale hof. Jy is skuldig al voor jy verhoor word en gee nie om wat jy sê of doen nie, sonder ‘n straf gaan jy nie wegkom nie. Hulle is nooit verkeerd nie.

Kom ek kyk na die ding soos ek dit sien. Daar is die sogenaamde “code of conduct” wat bestaan en basies daarop neerkom dat alle gekontrakteerde persone hulle moet gedra. So as jy vir SA gekies word as daar baie ouens rus en jy is nie ‘n gekontrakteerde speler nie, kan jy dan maak wat jy wil? Vra maar net so terloops.

Die IRK het na die fiasko in Australië (Ntini is daar deur Expats as ‘n kaffer uitgekryt) en die kommentaarflater van Dean Jones (hy het so bietjie lelik van die sub-kontinent spellers gepraat) besluit dat rasisme streng gestraf gaan word. Hulle het wraak gesweer en dit is op die gronde dat Gibbs gestraf word. Ek wonder wat diere name met rasisme te doen het? Volgende gaan hulle seker elke Engelsman wat na sy vrou as “my pet” verwys seker in die tronk gooi? Pas tog op vir troetelnaampies!

In die hele verhoor is daar ‘n paar flaters. Ten eerste, ek het nog nooit gehoor dat die baas aan een van sy betaalde werkers vra om iemand te straf nie. In regskringe is dit tog ‘n “conflict of interest”. Jy maak tog vir wolf skaapwagter hierdeur! Die verhoor moes tog sekerlik deur ‘n onafhanlike party gehou word. Tweedens is dit seker nie mooi om fok op nasionale TV te sê nie, maar as dit is waarvoor hy gestraf word, hoort André Nel voor ‘n vuurpeleton en Shaun Pollock seker in huisarres. Die derde ding is om “animals” as rasisme op te bring. Dit sou seker, weens geskiedenis, sleg gewees het as hy na hulle as bobbejane verwys het, maar hy het nie. Hy praat van diere. Laat ons ook eerlik wees, die spul op die pawiljoen het hulle soos diere gedra. Ek wonder of dit aanvaarbaar sou wees as hy daardie mooi Engelse woord “hooligans” gebruik het? Is daar ‘n verskil?
Ek hoop van harte Herchelle se appél slaag. Nie dat ek nou vreeslik baie van hom hou nie, maar net uit die beginsel daarvan. Kom ons wees eerlik, hy is egter ‘n ongeluk wat wag om te gebeur. Ek kan net nie sien dat hy geskors moet word terwyl die IRK absoluut niks doen aan die twee wat positief getoets is vir die gebruik van verbode middels nie. Hulle het mos net gesê dat hulle nie geweet het hulle neem dit in nie. In geen sport word dit aanvaar nie, net deur die Pakistan se krieketowerhede en die hoogs heilige IRK wat hier so vinnig intrap, doen niks daaraan nie. Dit is darem net so toevallig dat dit twee van die wêreld se vinnigste boulers is wat dit ingekry het. Daardie woema van hulle….wonder net… Miskien moes Gibbs ook maar net gesê het dat hy nie geweet het die mikrofoon is aan nie. Dit sal dus die geraas van ‘n vallende boom in ‘n verlate woud wees. Jy dink dit is hard, maar niemand het gehoor nie….

No comments: