Wednesday, February 25, 2009

Die 2010 Realiteit

Dit is so ironies dat daar so baie mense in Suid Afrika is wat nog steeds nie besef wat ons in 2010 in SA gaan tref nie. Dit is wanneer die wêreld se grootste sportgebeurtenis ons gaan tref. Die sokker wêreldbeker.
Daar is ten spyte van al die ontwikkeling wat tans plaasvind steeds mense wat nie wil glo dit gaan gebeur nie. Hulle glo nie dat ons die vermoë het om dit aan te bied nie en werk ook dit teë deur gedurig snert die lug in te stuur. Gelukkig is daar wel die meerderheid wqat beslis besef dat nierdie gebeurtenis op pad is. Kyk net om jou rond en jy besef dat dinge aan die gebeur is.
Die van ons wat die voorreg het om elke dag om die snelweë te ry besef al hoe meer hoeveel groter die paaie gemaak word. Wat my nog meer beindruk is die feit dat dit so gedoen word dat ons werklik nie eintlik kan kla nie. Die metode wat gevolg word het die absolute minimum impak op ons gehad omdat daar altyd genoeg bane beskikbaar was om te ry. Ek sien uit na die nuwe weë wat daar vir ons gestel gaan word.
Verder kan jy net kyk hoe huise rondom stadions opgeknap word en ou vervalle geboue word reggemaak en oorgeverf. Dit is wonderlik om daardie geesdrif te sien. Dit is net jammer dat die mense so lank gewag het voor hulle begin het. Dat daar 'n groot gebeurtenis moet plaasvind om die mense tot in realiteit te skop. Ek wens dat hulle in die toekoms dit net uit trots sal doen. Dit sal doen omdat hulle wil en nie omdat hulle verplig voel nie. Ek glo egter dat ons die begin van 'n nuwe era betree het.
Hierdie positiewe gons wat in die land begin ontstaan sal hopelik ook die meeste mense uit hulle doppe laat kruip en deel van die samelewing word. Te veel mense het agter hulle tralies begin wegkruip vir die wêreld rondom hulle. Hulle het toegelaat dat kriminele hulle vaspen in hulle gate. Kom ons kruip uit en druk die kriminele element weer terug uit ons woongebiede en stede. Kom ons slaan vir 'n slag terug deur weer vir mekaar om te gee en weer saam te verkeer soos ons in die ou dae gemaak het. Vat die positiewe energie en versterk dit verder.
2010 gaan op die regte tyd gebeur. Ons land gaan herbou wees en mense gaan uitgaan in hordes of bymekaarkom in groot massas om die sokker te kyk. Dit sluit 'n groot deel van die kriminele elemente in. Ek glo dat hulle ons ook 'n kans gaan gee om die wêreld se reisigers met ope arms te verwelkom. Ons moet net begin besef dat daar meer mense na die land gaan stroom as wat ons nog ooit gesien het. Ons land gaan op die voorblaaie van die wêreld pers wees vir die regte redes en nie oor nrgatiwiteit nie. Ons gaan aan die mense uit alle lande wys watter pragtige land ons het en dat ons nie net olifante en leeus het nie, maar 'n indrukwekkende infrastruktuur met pragtige strande en vakansieoorde. Met wild parke en baie vriendelike mense en natuurlik met die beste klimaat wat enige iemand buite die land nog ooit gesien het!
Al wat ons nodig het om alles volmaak te maak is 'n sokker span wat wen..... toemaar, ons sal maar op die boonste konsentreer!